Net Mooi Niks
YOUR LINK HERE:
http://youtube.com/watch?v=M_Dvyw3nhd4
Marisa Badenhorst is getroud met Willem Badenhorst, ’n leraar. Sy glo in haar roeping as vrou vir haar man en as ma vir haar vyf volwasse hartskinders: twee seuns en ’n dogter en twee Godgegewe skoonkinders. • Marisa is betrokke in bediening saam met haar man, asook by verskillende vroue inisiatiewe, onder andere by haar plaaslike gemeente en Revive our Hearts, Suid Afrika. Sy vind vreugde daarin om die waarheid van die Woord en waarhede oor vrouwees te deel en doen dit onder andere deur Bybelstudies en kursusse aan te bied. Sy hoop om die beginsel van Efesiërs 2:10 in haar lewe uit te leef: “in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” Vandag gesels sy met ons oor • AS NET MOOI NIKS MOOI WORD • ‘n Tyd gelede het ons die voorreg gehad om Namibië te besoek. Ek was weereens oorweldig deur die misterie van die Namib-woestyn. Die “oorverdowende” stilte en die asemrowende skoonheid van die NIKS rondom my, het my aangegryp. So ver as wat my oog kon sien, het duine fluweelsag en vaalwit uitgestrek gelê. Tog het die son en skadu’s die vaalwit prentjie in ‘n kaleidoskoop van kleur verander. Daar was beslis nié níks kleur op God se palet oor toe Hy die wêreld hiér moes maak nie. Die NÍKS was prentjiemooi. • Saam met ‘n ervare gids het ons op ‘n dag ‘n woestyntoer gedoen om verkleurmannetjies, slange, skerpioene, spinnekoppe en ander klein goggatjies in die barre woestyn te ontdek. Daar was oorvloed lewe in die niks onder die sand. Saadjies, stukkies takkies en blaartjies ry op die rug van die wind en dit meng met dou om boonop God se “woestynmuesli” (soos die gids dit noem) vir hierdie spesies te word om in die sandmassa te oorleef. Ek was verstom oor hoe God lewe in die niks laat lewe! • Terwyl ek bewus was van die oorverdowende stilte rondom my, het die sagte suising van die wind die NIKS gebreek. Skielik was my gedagtes in 1 Konings 19. Ek was immers al ‘n paar dae in die hoofstuk geparkeer. Want sien, ek het my eie Elia-stryd beleef en wou soos Elia in die middel van die woestyn gaan sit. • Tevergeefs het ek, soos Elia, God se antwoord in ‘n sterk wind, ‘n aardbewing of vuur gesoek. En nou, hier in die middel van die woestyn het die woorde van 1 Konings 19:12 skielik in my gedagtes ge-eggo: “En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.” • Ek was bewus van die wind wat gaan lê het en die oorverdowende stilte was weer my geselskap. Skielik was dit asof God in die stilte gefluister het: “Ek is in die niks.” • Ek het doodstil in my binneste geraak en geweet dat as God in die niks van hierdie woestyn is, Hy in die ”niks” van my lewe ook is. Stadig maar seker het God se Woord soos ‘n sagte bries in my binneste gewaai. “Wees stil en weet Ek is God!....” “Jou krag lê in stil wees en vertrou...” “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is….” Meer en meer Woord en God se gedagtes vir my en oor my het deur my gespoel. Ek was doodstil en het God toegelaat om my te bedien. Die niks het mooi musiek geword! Dit was God se lied in ‘n tyd wat ek dit so nodig gehad het. Dit was asof ek woestynmuesli direk uit God se hand geëet het. • Ek was oorweldig deur ‘n mengsel van skaamkry oor my murmurering en ‘n oorweldigende gevoel van dankbaarheid. God het my ore oopgemaak vir sy sagte stem. God het my oë oopgemaak om oorvloed in my niks te herken. God het my in my niks ontmoet en my klaaglied in ‘n loflied verander. • Die meeste van ons het al die “nikse” van die lewe beleef. So weet ek, het jy ook al jou niks-oomblikke beleef. Miskien onthou jy ‘n seisoen met niks op die lande en hoe God iets uit niks voorsien het. Miskien onthou jy die kreunende bankrekening en hoe God spreekwoordelik elke volgende rand voorsien het. Of die tydige trooswoorde of liefdevolle arms toe jou emosies leeggeloop het. Of ‘n vreemde geestelike woestynseisoen en hoe God net genoeg “woestynmuesli” vir elke dag gestuur het. Miskien het jy al die niks beleef van God wat stil en ver was, om op ‘n dag weer sy sagte fluistering te hoor en te ontdek dat Hy nooit ver was nie. Dis in tye soos die dat ons weet dat God se belofte in Hebreërs 13:5 waar is: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. • Miskien is jy tans in ‘n niksseisoen in jou huwelik, in jou verhouding met jou kinders, in jou beleef van jouself. Hoor as God jou uit jou grot roep soos Hy met Elia in 1 Konings 19 gemaak het. Hoor as Hy Hooglied 2:14 in jou oor fluister: ‘My duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans, wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. Jou stem is strelend, jou gesig lieflik.' Hy wil jou daar in jou niks ontmoet. • Ek moes in die Namib-woestyn stil word, fyn kyk, luister en waarneem om die mooi in lewe te ontdek. So moet ons ook in ons “niks-oomblikke” maak. God ís daar. Ons sal Hom daar ontdek. Dan word “net mooi niks”, niks anders as mooi ...
#############################
